Hoërskool

My hoërskool was 'n ontsettende interessante plek gewees. 
Elke oggend om 7:05am het ek en my ma voor die skoolhek stilgehou, net agter Armarscha Lotter en haar ma. Sy het op 'n plaas net buitekant die dorp gebly. Haar ma was 'n stoet boere tannie en was getroud met Hestrie Cloete. Die tannie is vandag op pad na 'n veiling toe want agter op die bakkie staan 'n ou trousseau kis, 'n hangkas, twee kallers en Armarscha.
Armarscha spring toe af en saam met haar het sy 'n sak sorghum waarmee sy gaan woeker by die koekverkoping tydens tweede pouse.

Halfpad by die skool in kry ek vir Frederik en Wimpie my twee beste maatjies. Dit is 'n Maandag so ons gaan sit ons tasse op die aantreeblad neer en stap saal toe vir die amptelike opening van die week. Dominee Steyn staan voor op die verhoog en wag vir almal om te gaan sit. Hy het as kind vier keer polio gehad en sy onderlip het effens gehang na 'n beroerte in 2007. Die liewe Heer het hom al kom haal en weer terug gebring en vandag preek hy oor die effek van hedendaagse musiek op die jeug en hoe versteekte demoniese boodskappe opgesluit lê in Rino Hugo albums as jy dit agteruit luister. Net 'n skool weet waar hulle, hulle dominees uitkrap.

Ek was onsettend bang vir my wiskunde juffrou. Sy was voorheen 'n rekkie op die grens en op naweke het sy haar diens vrywillig aangebied as tronkbewaarder. Bokant haar bord het drie fotos gehang van haar polisie honde; Hitler, Angel en Satan. Een Dinsdag het Amanda Fourie haarself heeltemal bepis toe juffrou Grobler haar vra om haar antwoord op die bord te kom skryf. Juffrou Grobler het probleme met haar lae rug gehad en om haarself regop te hou het sy altyd een hand onder die linker bors gehad terwyl sy met die ander hand die kak uit trigonometrie verduidelik het. Juffrou Grobler was die beste rugby afrigter wat daai skool nog ooit opgelwer het. Sy was beste vriende met juffou Cilliers, Hitler en depressie. Sy was ook verskriklik geset op 'n gesonde leefstyl en het drie sakkies sorghum van Armarscha Lotter tydens die koekverkoping gekoop. Sy het elke slukkie water wat sy gevat het gekook en jy kon nie die woord gastro voor haar noem nie of sy bekak haarself in 'n hele nuwe bloedgroep in.

Dan was daar die lewensoriëntering klassie. Ek was geseënd gewees om saam met al die mooi meisies in 'n klas te wees. Daar was een spesifieke meisie met die naam Andra Wessels. Sy was 'n kind van God en het die mooiste maniere gehad. Sy het nie gevloek nie en sy het altyd regop op haar stoeltjie gesit. Sy het al die krone in ons omgewing gewen. Sy was eenkeer in 'n onderonsie met 'n lesbeen tydens die kroning van mejuffrou Orkney maar het toe op die einde weggestap met die kroon en 'n ligte meswond op die bobeen. Ons L.O juffrou besluit toe eendag dat ons buite kan klas hê. Onder die blou lug en koel bries sit ons onder die boom en leer van oefeninge. Andra Wessels word toe gevra om 'n strek te demonstreer en soos sy haar been te lug skiet laat gaan sy 'n oerknal wat die hele klas tot stilstand ruk. Nicolene de Jager was direk getref, sy en haar hele familie gaan nou nog vir berading.

Dan was daar juffrou Ansie, my Afrikaanse juffrou. Sy was net 'n jaar na juffrou Grobler op die grens. Haar hare was korter geskeer as die grasperk voor die Unie gebou en sy het gehou van "camo" pakkies, doc Martens, en brei. Sy was 'n verskriklike selfstandige vrou. Sy was 'n groot voorstaander van die feministiese beweging en het Ackermans onderbroeke gedra. Sy het altyd gesê dat sy kan doen wat enige man kan doen en juis daaroor was sy gestuur om Afrikaans te gaan gee in Irak. Een van haar studente het 'n lont loop aansteek terwyl sy besig was met prosa en poësie en voor sy by paarrym en konteks kon kom het haar klassie die ewigheid ingeskiet. Sy het oorleef en is vandag die hoof van 'n verbeterings skool in Vereniging. Haar naam is saam met 'n Ackermans onderbroek op 'n plaatjie in die skoolsaal

My Engelse juffrou, juffrou Kok, was 'n regte ou bitch. Sy het satisfaksie gevind in die ondergang van elke liewe kind. Sy kon nie wag om 'n briefie aan jou ouers te skryf nie en het eenkeer haar sigaret op Santie van Aswegen se arm doodgedruk. Haar huiswerk was onmoontlik om te voltooi. Sy het ons een keer gevra om die bybel te vertaal en te ontleed in Engels in ons skrifte. Wilhelm Joubert het soveel spelfoute gemaak dat sy skrif vandag geontleed word op Pasella en in vra Adri in die Huisgenoot.

My hoërskool was 'n ontsettende interessante skooltjie gewees.







Comments

  1. Joh ekt nou lekker gelag. Ackermans onderbroeke! Hahahaha Dankie Miels.... Goeie tye!

    ReplyDelete
  2. My maag pyn nou soos ek gelag het!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek is bly jy het dit geniet Sandria. Dankie vir die lees.

      Delete
    2. Sjooooeeeeweeeee dankie vir die lekker lag Werner, ek en Jaco het ons nou pap gelag vir al jou stories!

      Delete

Post a Comment

Popular posts from this blog

'n Dekade is verby

Geloofsbeproewing in die Driveway

Die Skou