"Jy weet nie van swaarkry nie, jy's bederf"



Ek is vandag nou al vier jaar in die buiteland en tot op hede het ek nog nie 'n enkele sent gespaar nie. Dit is vreemd as ek daaraan dink want ek het die grootste gedeelte van my lewe as kind omgebring by ouma Lien. Daai vrou spaar nou al van Genesis 1 af en tot vandag toe kon sy nog nie 'n rondawel vakansie vir twee by Buffelspoort bekostig nie.
In die middae as ek van die skool af kom het sy altyd 'n heerlike gebakte eieirtjie op toast gemaak, die rand van die eier was altyd bietjie gebrand en die brood was nie getoast nie. Partykeer het sy dit afgewissel met 'n snytjie polony en 'n lekker yskoue glas Tweeza.
Na die tyd moes ek haar help om die skottelgoed te was. Dit het altyd 'n helse fokken oproer in Loeriestraat 45 veroorsaak want die "geiser" is af deur die dag sodat ons R9 per maand op elektrisiteit kon spaar en dan moet die ketel gekook word sodat die skottelgoed in warmwater gewas kon word. 

Die "sunlight liquid" bottel wat langs die wasbak staan is in 1993 gekoop want hy word hervul met die sakkies wat mens koop by Shoprite en dan word hy verdun met water op 'n ratio van 1:3406. Ek spuit 'n koppie vol seep in die wasbak in en hoor hoe ouma Lien saggies laster omdat ek nie verstaan waar geld vandaan kom nie.
"Jy's bederf" sê sy "Jy weet nie van swaarkry nie". Ek staar by die venster uit en kyk uit op haar erf, dor en kaal sonder gras, in die vensterbank staan drie stegies veigies in 'n half gesnyde housebrand bakkie margerien. "Dit moet fokken verskriklik gaan met mense wat swaarkry" sê ek en trap 'n stukkie van die novilon kombuis teels uit toe ek omdraai om die borde weg te pak.

Die badkamer in ouma Lien se huis is ook 'n verskriklike interessante plekkie. Op die wasbak lê 'n groot koek Breeze seep. Dit kon 'n familie van agt bad vir twee maande. Lux was absoluut buite die kwessie gewees want vandat die maatskappy vir Lexi van "The Bold and The Beautiful" op hulle advertensie begin gebruik het, het pryse met 25 sent gestyg. As sy lux moes koop sou sy die Tweeza moes los. Agter in die toilet was 'n baksteen gesit om die watervlak te lug sodat mens nie onnodige water vermors nie. Op hierdie manier het sy nog R4 per maand op haar waterrekening gespaar. In die bad was 'n lyn getrek met 'n "permanent marker" wat duidelik vir jou aandui tot waar jy die bad mag vol tap. Behoed jou siel as jy oor daai lyn gegaan het, dit was asof die hele boek van Openbaring op jou neergedaal het, jy't op die plek opnuut jou hart weer vir die Here gegee.
Wanneer die badwater dan uit tap het dit ook nie weg gespoel in die drein af nie. Daar was 'n pyp wat dié gevoer het na haar agterplaas se grondperk toe, sy't vas geglo dat 'n grassie daar sou opkom. Mens het so gestaan met jou hand voor jou mond en gekyk hoe suip die grond die armoede op en dan ruik jy Breeze.

"Ja ou wêreld" het sy altyd gesê as sy so in die agterdeur staan en uitkyk en aan haar tee drink. Die teesakkie is nou al vir die vierde keer gebruik en mens kon dit sien aan die manier hoe haar duimnael wit geword het soos wat sy die laaste lewe uit die blare uit vorseer. Dié sal later in die kompos hoop ingewerk word saam met elke eierdop en afval skil wat Petrus dan vir ons oor die veigie beddings sal strooi want geen mens betaal vir hoenderkak nie het sy altyd gesê. 

My gunsteling etes behalwe vir chuck en sorghum was wanneer ouma Lien vir ons pastytjies gebak het. 
Sy't altyd vir ons Today pies, maar die "value pack", by Checkers gekoop. Smiddae vroeg begin sy al 48 pastytjies met 'n eiergeeltjie te smeer. Die bakkie met die eiergeel word dan in die yskas gebêre want môre gaan sy 'n heerlike roerbraai vir ons maak. Dit is eintlik hoekom ek so baie van Today pies gehou het want ek het geweet die volgende dag gaan ek 'n lekker ontbyt hê. Normaalweg was dit drie blokkies weetbix met poeier melk, want geen pap ter wêreld kon melk so suip soos 'n weetbix nie en die prys van transem sakkies melk by Louis se kafee is ook alweer op.
As die pastye in die oond was het sy gewoonlik vir my ma 'n "please call me" gestuur. My ma het dan gebel en was dan gevra om vanaand daar te kom eet na werk. 
Voor aandete was dit my werk om die plastiek tafeldoek mooi skoon af te vee en om die 2 liter housebrand tamatie sous op die tafel te sit.
Die hele huis ruik soos Checkers se bak afdeling. My ma het uiteindelik opgedaag en ouma Lien skep op. Ek vra of ek asseblief 3 pastytjies kan kry maar daar word vir my gesê ek's 'n vraat en dat hierdie pastye die week moet hou. Sy tel tien aartappelskyfies af vir elk en gee vir elkeen 'n eetlepel tamatiesous. 
Toe ons klaar geëet het toe gaan kyk ons almal Egoli tydens oopkyk tyd. 

Veertien jaar later toe bederf ouma Lien haarself met 'n week lange vakansie vir een in die Beacon Isle hotel in Plett.
Van baksteen tot Breeze het daai vrou vir haar vandag in 'n aftree annuteit in gespaar. 
Die "permanent marker" lyn het bleikbaar ook intussen gestuig. 
Dalk kan ek tog 'n ietsie by haar leer.




Comments

Popular posts from this blog

'n Dekade is verby

A Bundle of Sticks

Geloofsbeproewing in die Driveway