Geloofsbeproewing in die Driveway


Die Jetta

Ek was sewe. Dit was ‘n groot oomblik vir ouma Lien gewees. Ons is Essops toe om lap te koop vir ‘n nuwe bloes, het patrone by Ansie Trusello gaan oplaai en by Jet skoene op rekening gevat, want oor twee weke gaan ouma Lien haar nuwe kar gaan haal en sy wil soos ‘n “million dollars” lyk.

Intussen ry sy nog met haar rooi Audi rond. Dit is dieselfde Audi waarmee Rut en Naomi van die bybel vir Boas opgelaai op pad koring lande toe. Daai kar was groter as die Suez Kanaal. Tydens familie reünies het ek, my ma, ouma Bettie, Stoffel, Miriam, die spysenierings personeel en die pleegsorg kind almal in die Audi geklim en die lang pad aangedurf.

Dit was altyd ‘n helse fokken oproer om almal uit die kar uit te kry. My ma is ernstig besig in die truspieël met plastiese snykunde en finale grimmering opknappings, die pleegsorg kind steel Miriam se selfoon, ouma Bettie se oë is vol trane want vir die afgelope tien jaar is elke reünie haar laaste een, en uit vrees bepis Stoffel die hele parkarea.

Na ontsettende baie soene en drukke en verhale klim ons in die Audi op pad huis toe. Tannie Bapsie moet saam ry en ek moet op haar skoot sit. Ouma Lien trek weg en leeun oor die stuurwiel soos sy haar siggaret aansteek. “Om Vaders naam Lien, jy weet  ek is aamborstig” sê tannie Bapsie, maar ouma Lien gee nie om nie want sy weet môre kry sy haar wit Jetta. Vir vier ure lank hoor ek hoe tannie Bapsie roggelend probeer om aan die lewe te bly, ouma Bettie is weer in trane, ons het die pleegsorg kind vergeet, en ek lees bybel.

Die groot dag het uiteindelik aangebreek. Ouma Lien is in haar nuwe bloes en Jet skoene. Haar hare is ‘n toneel uit Hiroshima. Die hele “Anglo Gold” hang aan haar ore.  Sy lyk soos ‘n kruising tussen Carika Keuzenkamp en Michael Jackson. Vir die laaste keer klim ons in die Audi.

Dit was ‘n fokkop toe sy daardie middag  by die “driveway” in ry.
Dominee Piet, my ma, ouma Bettie, tannie Bapsie, pleegsorg, Juanita Du Plesis en Meiringspark Laerskool wag haar by die hek in. “Waar het die kat gepis” sê ouma Bettie (sy het dit altyd gesê as iemand mooi lyk of "grand" is) en skud haar kop toe ouma Lien uit die kar uit klim.

Teen die einde van die dag neem ons ‘n groepfoto saam met die wit Jetta. Die son was skerp en ons moes fokus. Net voordat Miriam die kamera knoppie druk breek  tannie Bapsie ‘n wind op. “Ag nee Jirre Bapsie” sê dominee Piet, ek maak my oë toe want ek dog ons gaan bid, pleegsorg steel iets uit ‘n handsak uit, Juanita breek uit in sang , Stoffel is in ’n toestand, en toe neem Miriam die foto.

Dit was nie lank nie, so een of twee jaar, toe die wit Jetta met sy moeilikheid begin het. Elke oggend het verander in ‘n geleentheid om jou geloof te toets. My werk was om die hek oop te maak en om vir Stoffel in die erf te hou terwyl ouma Lien die kar probeer aanskakel. Dit het verskriklik lank gevat. "Probeer weer ouma" sê ek. "Ag sharrap, hou jou bek!" skreeu sy ongeskik terug. Uiteindelik, na poging twaalf en 'n halwe pakkie Piet rooi vat die Jetta. Ons het daai oggend sewe uur opgestaan, ek het half tien by die skool se hekkies ingestap.

Op koue wintersaande het ouma Lien koerant gevat en die enjin  toegedraai soos wat jy ‘n siek mens in Mooimed sou toedraai. Ek het altyd net eenkant gestaan en kyk  en dan gewonder waste kak hulle haar geleer het op handelskool.

Môre oggend word ons wakker en herhaal die hele proses weer. Sy gooi ‘n gieter vuurwarm water uit oor die voorste venster om die ryp te laat smelt. Sy kraak daai venster van Klerksdorp tot in Coligny. Sy laster saggies deur haar tande en klim in. “Werner, hou op so slapgat wees en kom help stoot aan hierdie verdomde kar!” gil sy by die ruit uit. 

Ek volg onmiddelik haar instruksies want die toorn van satan is duidelik hoorbaar in haar stem. "Watse grootmens gaan hierdie kind eendag wees, Romien het hom te veel bederf." sê sy saggies vir haarself toe ek nader stap om te kom stoot. Ek roep vir pleegsorg om te kom help, en so stoot ons vir ouma Lien en die Jetta straat op.  Met 'n knal harder as die slag van Armegeddon skiet daai kar 'n bol rook uit groter as die industriële revolusie. “Jou bliksem” sê ouma Lien toe hy vat. Intussen het Stoffel uit die erf uitgekom, hoogs verbouereerd bekak hy en pleegsorg tannie Toekie se blombedding toe.

Half tien is ons by die skool.
Ouma Lien stop nie dood nie en ry so klein bietjie oor my hakskeen toe ek uit die kar uit klim. Onder in die straat sny sy haar draai kort en ry oor die sypaadjie.

Ek het daai dag leerlingraad gekry, nie op meriete nie, maar omdat juffrou Barbara Pinto die hele spul dopgehou het vanaf haar klaskamer venster. 
Sy het ook ‘n Jetta gery.

Ek het myself belowe dat ek nooit op 'n plek sal kom in my lewe waar ek so moet sukkel nie. Daai selfde middag was daai kar verkoop. Ouma Lien het toe sommer haarself laat groot doop en daai Sondag haar bekerings getuienis in die kerk afgelê.

Vandag ry sy ‘n Ford.








Comments

Popular posts from this blog

'n Dekade is verby

A Bundle of Sticks