Maandae by Ouma Lien
Vroeg Oggend
Dit was 1995, ek was vyf en vet, maar mooi, en my ma
het verslaap. Haar “pager” het alweer nie afgegaan nie. Dit was ook ‘n Maandag, so ou vieslike Ford Cortina blou ene. Maandae het my op vyf jaar oud al laat voel soos tannie Frieda in 'n AGS kerk, verward, bang en ongemaklik.
My ma is besig om
reg te maak vir werk en ek kyk Takalani Sesame want ons het nie geld gehad vir
Mnet nie. Vannuit die kamer hoor ek 'n gil wat my hoendervleis tot in my siel in gee. “Ek kom!”
antwoord ek terug in Zulu want dit is wat tannie Thandi vandag die maatjies
geleer het op TV.
Ons woonstelletjie ruik soos Red Square en ek sien my ma is
vandag nader aan die Here want haar hare grens aan die hemel poorte. Ons klim
in die Fiat. Di's 'n koue oggend, so die Fiat vat nie. "Trek die choke uit mamma" sê ek. Red Square sit hom in eerste, sy trek weg, my kop stamp hard terug teen die koplening en ek breek my nek op drie plekke! Daar word nie dood
gestop by stopstrate nie. Ek het vir Netcare op "speed-dial" en bid "Dankie Heer al is ek klein, vir my skool en vir my brein"
Ons stop voor ouma Lien se hek. Red Square druk die hoeter.
In die straat stap n kommin egpaar. Die tannie stoot 'n tweedehandse "pram" en in dié sit 'n witkop dogetrtjie van vier met n snotstreep oor haar wang, toffie appel taai hande, en gekoekte hare. Hulle verwag hulle sesde kind en is op pad
kliniek toe. Elona Pieterse van oorkant die straat praat oor die muur met
tannie Nelie en vra haar vir die soveelste keer om asseblief die gat in haar
draad reg te maak want as Boelie weer in haar erf inkom gaan sy die fokken hond
skiet.
Verder af sien ek hoe oom Frik aan sy Ford Escort werk terwyl hy op
tannie Lettie skree om die petrol te pomp sodat hy kan sien of die “fan-belt” hom
weer gaan kak gee. “Di’s 'n oulike straatjie die mamma” sê ek.
Uiteindelik gaan
Loeriestraat nommer 46 se deure oop, en daar staan sy...... my ouma Lien. Vir my was sy die heel, maar heel mooiste vrou gewees.
Op haar kop lê al haar krullers soos anys beskuit in 'n lou oond. Die krullers trek die vel oor haar gesig so styf dit
lyk of sy valskerm spring. Sy is in haar blomme japon en vervalsde Springbok Apteek pantoffels. Sy sukkel om die hek oop te sluit en sy’t vergeet om haar
tand in te sit. Na n lang gesukkel met 'n bos sleutels wat sy geërf het van groot ouma Bettie af, kry korrektiewe dienste uiteindelik die hek oop.
Red Square gee my 'n koebaai soen en
ek klim uit die kar uit. Ek lyk soos Dita Von Teese want na die soen is die hele Revlon
fabriek oor my gesig gesmeer. Ouma Lien vat my hand en ons staan en waai toe Red Square weg trek
en honderd meter verder amper 'n hoer dood ry.
Ouma Lien vat my by die hand en ons stap by haar
huisie in.
“Ag Jirre, Stoffel het alweer op die mat gekak” sê sy verslaan toe sy berg Ararat op haar nuwe pienk patroontjie sitkamer mat sien. Ek maak my oë toe want ek
dog ons gaan bid. Sy gaan haal 'n kom in die kombuis en gooi afgewaterde MAQ skottelgoedseep daarby. Ek word heeltemal teen my wil forseer om Ararat op te
tel en weg te gooi. Die reuk alleen is genoeg om enige onbetrokke gemeentelid op sy of haar knieë te kry.
Ek en ouma Lien gaan na haar kamer toe. Ek spring op die
bed en sy gaan sit voor haar spieëlkas om reg te maak vir die dag. Ek hou haar
dop met verwondering in my oë. Versigtig maak sy elke kruller los en gooi dit in die emmertjie langs haar
neer. Sy werk die agter-kant van haar geel kammetjie verwoed en aggresief deur
haar hare, amper soos ‘n boer sy landerye sou ploeg. Toe sy klaar is lyk sy soos 'n in die geheim heroïen verslaafde pastorie vrou.
Sy draai toe daai geel kammetjie om, vat 'n stuk hare in haar hand vas en
begin "tease". Hoe daai vrou vandag nog 'n haar op haar kop het weet gin mens want
fok sy kon "tease". Die aggressie in haar blitsige bewegings en die verwoede uitdrukking op haar gesig maak my verskriklik benoud en ek wil my ma bel.
Skielik sit sy die kammetjie neer, druk haar tong
teen haar bo-lip vas en kyk vir 'n paar sekondes na haarself in die spieël. Ek slaak 'n sug van verligting en dank my Skepper vir nog 'n dag.
Sy
haal 'n bottel haarspry uit, knyp haar oë styf toe, en tong teen bo-lip begin daai
vrou mos te spuit. Dit is asof sy 'n doelwit wil bereik. Sy spuit die sin uit die
lewe uit. Dit is op die oog af duidelik dat sy nie 'n idee het wat sy doen nie. "Die osoon laag ouma!" skreeu ek. "Man, fok die osoon laag!" skree sy terug.
Ek begin huil, die radio omroeper verstik en Stoffel hardloop weg en
gaan pis op die eetkamer mat.
Langs my op die bedkassie sien ek n boek
“Doelgerigte lewe” maar ek was te klein om te weet wat dit beteken, vandag weet
ek ouma Lien het definitief ook die boek verkeerd verstaan.
Uiteindelik hou die gespuit op. Ek maak my oë oop. Die kamer lyk soos iets uit 'n toneel van Gorillas in the mist. Haar beeld word stadig maar seker duideliker. Haar hare is groot soos my ma sin, dit
is net net hoër as die Magaliesberge. Haar tong druk nog teen haar bo-lip vas
en sy kyk lank vir haarself in die spieël.
Sy ontspan die mond en knik haar kop
liggies vir haarself. Sy lyk nie meer soos die heroïen verslaafde pastorie vrou nie, maar soos die hoofdogter
van Schoonspruit Hoërskool.
Di's toe dat sy haar bottel “aqueos cream” vat en begin met smeer. Tot vandag toe het ek nog nie een mens ontmoet wat n gesig kan bewerk
soos my ouma Lien nie. Tong bo bo-lip smeer sy vir haarself in n nuwe
ouderdomsgroep in. Di's 'n geklap en n geprik en 'n getrek en 'n geween en 'n gekners van tande. Ek bly liewer stil en kyk maar net want op vyf het ek reeds waarde geheg aan my lewe.
Ouma Lien het 'n geheim gehad. Daai was nie net gewone
“aqueos cream” nie. Nadat sy en ‘n agent ‘n lelike uitval gehad het oor n R2
prysverhoging op Avon se “youth restoring cream” het sy besluit om sake in haar
eie hande te neem.
Sy en haar niggie, tannie Ina, het toe koppe bymekaar gesit en 'n mengsel aanmekaar geslaan wat n dooie mens, willig of onwillig weer aan die lewe sou kry. Die mengsel het produkies bevat soos "Jeyes fluid", briek olie, "blue52", "anti-freeze", "vanilla essence", pietersielie en ure se gebed.
As dit in die regte hande kon beland het, het
elke velsorg maatskappy in Suid Afrika hulle deure toegemaak.
Na amper tien jaar se volgehoue
gebruik het daai vrou se plooie verdwyn soos 'n Jehova Getuie as mens open met
skriflesing en gebed.
Uiteindelik het sy die room klaar ingesmeer en is sy
besig om haar wenkbroue in te trek. My ouma Lien kon die mooiste wenkbroue teken, elke dag 'n ander styl. My gunsteling
was die hoepel brou.
Dit was twee groot halwe mane bokant elke oog. Dit het
die area tussen haar oog en haar wenkbrou laat lyk soos Afrikaans is Groot se verhoog.
Nadat sy wenkbroue getrek het, het sy begin met “eye shadow”.
Sy kies n kleur
blouer as Klerksdorp swembad en so maak sy die verhoog 'n realitiet. As sy met
daai oë verby 'n pou moet loop skrik daai ding sy vere af.
Uiteindeilik is sy klaar met haar meesterstuk. Haar
tong druk weer hard teen die bo-lip vas en sy bestudeer haarself ernstig in die
spieël. Sy sit haar tand in, tilt haar kop effens en trek die vel onder haar ken 'n bietjie stywer
toe sy skielik opstaan en vir my sê ek moet uitgaan want sy gaan nou aantrek.
Ek wag in die eetkamer en hou my oë ferm op haar duer.
Agter die deur hoor ek hoe Nia Nel teem oor 'n radio duidelik sonder fokken grense, 'n kas klap hard toe, 'n glas val op die vloer en breek, en toe laster sy, en toe gaan die deur oop.
Sy lyk ongelooflik. My oë is groot in verwondering. Sy dra 'n donker
groen kraagnek bloes met "shoulder pads" wat vyf sentimeter aan weerskante van haar
skouers uit toring. Saam met die bloes dra sy 'n besemstertrok vol blomme
en patrone. Aan haar voete is 'n swart blok hak tipe skoen met ekstra “padding” om
brandsool te voorkom.
Die Magaliesberge toring geheimsinnig bo haar kop uit. Die
“shoulderpads” laat haar lyk soos 'n onopgeloste vierkantswortel wat geval het
in ‘n botaniese tuin, en di’s toe wat sy vorentoe begin stap.
My oë rek groot
toe sy naby die deurkoesyn kom. Alles gebeur in stadige aksies. Sy het vergeet om
te buk, en die berge tref daai koesyn en ruk vir hom sement en al uit die muur
uit. In die agter grond huil Nia Nel nog asof dit haar laaste kans op 'n verhoog is. Stoffel pis weer op die mat,
“Jou Bliksem” skreeu ouma Lien agter hom aan. Ek wil my ma bel, en skielik word
alles stil.
Ek sien dit toe vir die eerste keer. Die Magaliesberge lê onaangeraak. Ouma Lien lyk nogsteeds soos n rolprent. Sy gee my 'n soen en haal 'n vervalde toffie uit haar handsak uit en gee dit vir my. Sy is toe by die huis uit. Vandag gaan sy elke kop in Klerksdorp middestad laat draai.
Ek gaan lê op die bed en kyk vir die dak.
"Op my bedjie lê ek nou, met my handjies toe gevou, Takalani Sesami en Sanlam" bid ek.
Ouma Lien is later terug by die huis. Sy braai n eiertjie op die stoof en ons eet middagete. Na ete gaan speel ons boer - boer.
Vyf uur hoor ek die toeter.
Di's mamma, sy't my kom haal.
Comments
Post a Comment