Meneer Maghiel Lottering


Meneer Maghiel Lottering

In my skooltjie het ons ‘n ontsettende, vreemde ou meneer met ‘n verskriklike interessante styl van menswees. Ek belowe, jy het nog nie in jou lewe so iets teëgekom nie. In die oggende vroeg doen ek ‘n noodstop voor die skool en trek die handbriek op sonder om die knoppie te druk want ek is altyd vyf minute laat. Haastig by my karretjie uit haak my bloes teen die deur vas en skeer hy op die naat, net daar waar Wanda Moolman hom twee dae terug gestik het. So in die hardloop na die hek sien ek vir Maghiel Lottering, my skooltjie se wetenskap onderwyser ook nader  gestap kom. Hy het ‘n valerige geel kerk hempie, ‘n poef groen broek en swart skoentjies aan. Hy is net net korter as ‘n naweek en dit lyk of hy aan kroniese koors lei.

“Ek het nie krag hiervoor nie” dink ek by myself toe ek hom ontmoet by die hek. “Môre meneer Lottering” sê ek, “môre Susan” sê hy sonder om op te kyk. My manlikheid vat ‘n groot knak maar mamma het geleer mens moet dit vat van waaraf dit kom en so dink ek aan Netflix, neussproei en Natalie Portman en kalmeer myself. Ons is saam in die hysbak, “wat ruik so?” vra ek “armoede en eensaamheid by Avon” antwoord hy. Ons stop op vloer drie en stap na ons onderskeie klaskamers toe.

In my klas ingekom wag my graad sewe sub B klassie op my. Nog voor ek kan sê more toe storm Champagne op my af en handig vier maande se agterstallige plakkate in. Elsalvador en Nicole Paige Brooks is op tinder, Winnie is besig met een of ander guinness world record, Mike en Joan of Arc lees bybel en Melodie praat sedert die skepping, en sonder ophou, vlot Manderyns met my terwyl ek Champagne se plakkate teen die muur op plak. Die Here het my gehoor, en uiteindelik raak graad sewe sub B rustig.

Halfpad in my les in hoor ek ‘n oorverskeurende slag wat afgaan in die klaskamer langsaan my. n’ Klein gilletjie ontsnap vanuit meneer Maghiel Lottering se klaskamer uit, en toe gaan daar ‘n alarm af. Nou sit ek……..”wat doen ek nou met hierdie fokken kinders” dink ek. My oë staar vas in Melodie sin. Haar oë was so leeg soos ‘n munisipale swembad. Daar is ietwat van ‘n remoer in die gang en di’s toe dat ek rook en ‘n vae ondertoon van “armoede en eensaamheid by Avon” ruik.

Nog voordat daardie reuk kon stelling inneem in enige van my graad sewe sub B klassie se neusies het Champagne opgespring, al sy plakkate van die muur afgeruk en vir die deur gemik. Kort op sy hakke was Joan of Arc en toe ek en toe Nicole Paige Brooks. “老師,我很害怕”skree Elsalvador op my “man, fok vir Melodie, sy dink di’s pouse, red jouself” skree ek terug. Die gang was absolute chaos, di’s net kak en hare waar jy kyk. Bolle en bolle rook plof by meneer Maghiel Lottering se klassie uit. Sy klas lyk soos Vereniging. Joan of Arc is besig om siele te wen, juffrou Steyn gryp haar besem en in haar beste paalsprong is sy oor al daai kinders, intussen wag Champagne en sy plakkate voor die klein hekkie vir sy ma.

Tussen deur al die bohaai het Melodie toe besef dat dit nie pouse is nie maar wel ‘n noodgeval was, en het sy vir haarself laat natspuit met die brandslang. Daai kind lyk soos Penny Heyns na ‘n 400 meter borslag oefening in Alberton. Van iewers uit ‘n hoek hoor ek hoe sing Mike en Nicole Paige Brooks, Juanita Du Plesis se Vlieg hoog.

Uiteindelik is ons almal buite op die antreeblad. Di’s net hoesies en snikkies om ons. Champagne wag nou nog vir sy ma.
My graad sewe sub B klassie sit voor my en ek lees almal se naampies. “Waar is Joan of Arc!?” skree ek “in die hemel saam met haar siele” skree sub B en di’s toe dat ons vir meneer Maghiel Lottering in die deur van die voorportaal gewaar, kort op sy hakke is Joan ook. Sy laster deur haar tande en sê toe saggies ietsie in Mandaryns toe sy verby my loop. Sy gaan sit in die ry en pak haar bybeltjie in haar rugsakkie. Mike vat haar hand en neurie saggies Psalm 16 in haar oor.

Meneer Maghiel Lottering lyk soos iets wat nou dadelik onder kwarentein geplaas moet word. Die poef broek is ‘n skakering of drie donkerder, die hempie hang soos ‘n hartseer doilie aan sy lyf, een van sy skoene is weg en hy’t ‘n hap in sy hare. “My pa het een keer so gelyk op Koevoet en toe weer elf jaar later toe hy sy tweede vrou ontmoet het” dink ek by myself.

Hy het toe bleikbaar ‘n eksperiment met lood, plofstof, WellaV05, chloor en Estee Lauder gedoen en dit het gefotosinteer en ontbind en ontkiem en toe sommer ontplof op sy lessenaar. Die hoof het hom toe gevra of hy nie maar by ‘n ander skool wil gaan werk nie maar hy het gesê nee dankie en was die volgende dag weer op sy pos.

Ek en sub B het intussen ‘n band tussen ons sterker as die geloof van ‘n Jehova getuie. Champagne het die volgende dag sy plakkate terug gebring en ek het opgehang. Nicole Paige Brooks en Elsalvador het na die groot skok besluit om tot bekering te kom en kon na een week al Piet Smit se liedjies resiteer.  

‘n Lid van die plaaslike staf was gevra om toesig te hou en in te sit by al meneer Maghiel Lottering se klasse.
Tot nou toe weet niemand waste eksperiment hy wou doen nie, selfs hy is nie mooi seker nie.
Maghiel Lottering is ‘n liewe mens, ‘n spesiale mens, ‘n lukrake mens. Ek belowe jou, jy’t nog nie in jou lewe so iets teëgekom nie.















Comments

Popular posts from this blog

'n Dekade is verby

A Bundle of Sticks

Geloofsbeproewing in die Driveway