Ouma Lien in Lockdown

Dit is Donderdag, 27 Maart 2020 en ouma Lien sit by haar eetkamer tafel met haar een hand in haar hare terwyl sy goedjies neerskryf in 'n boekie. Langs haar op die tafel lê: veertien pakke White Costas Candles, 'n pak Faithful to Nature toilet papier, 'n pak Lion vuurhoutjies, twee walkie-talkies, die Bybel, Fifty Shades of Grey en 'n bottel Jeyes Fluid. 

Haar potlood se punt breek, sy laster deur haar tande, en toe lui die voordeur klokkie. Stoffel is heel mal en blaf my ore van my kop af. Van uit my kamer skreeu Britney Spears "That's my prerogative," 
"Sit sagter daai Satang kak" gil ouma Lien toe sy opstaan om voordeur toe stap. Ek loer deur my venster en sien 'n lid van Suid Afrikaanse weermag voor ons deur staan. "Môre Doreen" hoor ek vir ouma Lien sê toe sy die deur oopmaak. 

Ouma Lien en tannie Doreen het in die 90's saam Nasionaal gestem en aan die Core Club piramide skema behoort en toe net ná Mandela as president verkies was eerder hulle tyd bestee het aan die verkoop van Bundu Pots.
Tannie Doreen staan in haar oorlede man se weermag uitrusting en daar hang 'n netjiese gevoude sweep langs haar been af. 
"Lien, is jy seker jy wil nie saamgaan nie? Daar is nog plek," hoor ek vir tannie Doreen sê.
"Ag Doreen" hoor ek vir ouma Lien moedeloos sê, "Wat van Stoffel en my papegaai? Ek sal julle net terug hou, jy't gesien wat het laas keer gebeur."
Nou, so paar maande terug toe die gesprekke van grondonteiening aan die lig gekom het, het tannie Doreen en die Suid Landers assosiasie vir ouma Lien oorreed om saam met hulle te vlug na oom Sarel Pieterse se plaas net buite Kestell in die Drakensberg, en hulle was net deur Orkney toe kry Stoffel sy eerste epileptiese aanval en bepis toe tannie Mignon Fourie se hele karavaan.
"Genade en vrede vir julle" hoor ek vir tannie Doreen sê. 
Ouma Lien gee vir haar een van haar walkie-talkies en sy klim toe op haar perd. "Vorentoe Bacchus" hoor ek haar sê, sy skop daai perd se lies so hard hy's op sy agterbene. "Eendrag maak mag" skreeu sy en 'n wit brood val uit haar rugsak uit en met 'n sprong en 'n runnik is sy daar weg. 
"Jirre Doreen pasop vir Toekie! " gil Ouma Lien deur haar heining toe sy vir tannie Toekie sien straat af kom met haar pakkie inkopies en kannetjie diesel. Die laaste wat ons van tannie Doreen gehoor het was toe sy nóg 'n pelgrim te redde gekom het halfpad Oranje toe en toe vang hulle walkie-talkies nie meer op nie. 

"Wat skryf ouma in ouma se boekie?" vra ek toe ouma Lien terug kom in die huis. "Sharrup, hou jou bek" sê sy geïrriteerd en maak haar potlood skerp. Sy sit haar Jim Reeves CD in en sing saggies "This world is not my home." 
Ek gaan sitkamer toe en tel Stoffel se poef op agter die bank, gaan gooi vir my 'n koue glas planet Cola in en kyk die her-uitsending van Days of our Lives. 

Twee uur daai middag word ek op die vieslikste manier wakker geskreeu "Werner! Kom maak oop die hek, ek gaan Chekers toe." 
"Kan ek saam kom ouma?" vra ek. 
"Ja! Kom tog" antwoord sy terug in 'n baie geïrriteerde stemtoon. 
"Jy moet nou vir my mooi hoor" sê sy toe ons in die Ford klim. 
"Ek het baie dingetjies om te doen vandag. Ek moet vir Miriam kliniek toe vat, dan moet ek poskantoor toe om vir Oom Ockert sy pakkie te pos, dan moet ons by tannie Louise stop. Ek't vir haar gesê ek gaan net die hooter druk en dan spring jy uit en kry die botteltjie parfuum wat ek vir haar moet omruil, maak net seker dis LaBianca wat sy vir jou gee en dan gee jy vir haar die botteltjie Forever. Dan moet ons kooperasie toe om die laaste paar goedjies te koop. 

Sewe uur daai aand is ons terug by die huis. Toe ons die kar se kattebak oopmaak toe ontsnap een van die hoenders wat sy by oom Dirk gekry het, die sak meel het oopgegaan en twee eiers het gebreek toe ons om die draai kom en sy weer oor die fokken sy-paadjie ry. Ons begin toe uit laai en pak al die pakkies uit op die kombuistafel. Ek kom die kombuis binne met die laaste 25kg pionier sak mielies en val oor 'n los stukkie novilon teel. Ouma Lien was besig om die velle van haar hande af te was met 'n koekie Breeze seep terwyl sy gorrel aan 'n sluk Borstol.
"Dê, maak oop jou mond" sê sy en breek my tande met die lepel toe sy die Borstol in my keel afdruk. 
"Eet hierdie disprin, voorkoming is beter as genesing, en dan gaan was jy jou hande en dek die tafel as jy terug kom" sê sy met 'n glasie Old Brown Sherry in haar hand. 

Die radio speel in die kombuis en die huis is gevul met die geur van sorghum, soet patats, groen bone, lifebuoy, wors en mielies. 
Sy gooi nog 'n koppie detol by die rys, kap die lepel teen die pot op die ritme van "in ons land Suid Afrika" en maak haar glas vol en skep op. "Na ete gaan ons puzzle bou sê sy." 
Sy't vir haar 'n 5000 stuk puzzle gekoop om haar besig te hou vir die volgende drie weke. Op die boks is 'n toneel van 'n verlate huis langs 'n rivier met 'n wilgerboom, werfhondjies en 'n kudu wat heining spring tydens sonsondergang. 

Teen nege uur is al die skottlegoed gewas en weg gepak. 'n Strepie bloed loop teen my ore af want ouma Lien is 70% doof in haar linker oor en partykeer weet ek nie of sy weet hoe hard sy met my praat nie. Ek weet ek moet niks hieroor sê nie want sy't haar tand uitgehaal en sy't krullers in, en as sy so lyk is ek bang vir haar. 
"Kom seun!" skreeu sy, "ons gaan puzzle bou" 
Sy haal die doily van die tafel af en sit die porselein poedel in die kas. Langs haar staan haar glasie sherry en die revolver lê op die hoek van die tafel onder 'n vadoek. 
Ons pak die puzzle stukkies uit en begin eerste aan die raam werk. 
Ons hoor 'n geluid by die agterdeur en ouma Lien skreeu "Wies daar!" terwyl sy patrone in die revolver laai. Die geluid is toe weer daar. Ouma Lien sit haar tand in en stap deur toe met die revolver in haar hand. Ek whatsapp intussen my ma en vra haar om my asseblief te kom haal. 
Op pad deur toe val sy oor 'n sak meel, drie krullers val uit. Stoffel gee 'n tjank en gaan kak in die agterkamer.
Toe sy die deur oopmaak toe is dit haar kat Spoekeloesie. Hy't 'n worshond gevang en kom toe met dié binne. 
My ma antwoord nie my boodskap nie want sy's in die Vrystaat en daar is meer stof, armoede en rassisme op daai plek as selfoon sein. 
"Jou bliksem!" sê ouma Lien toe die kat by die deur in hardloop. 
 
Ek stap agterkamer toe met  'n rol Faithful to Nature en tel Stoffel se poef op en toe bou ons puzzle. Teen elf uur daai nag is ons 1/3 klaar gebou aan die puzzle en begin die kudu net net vorm vat toe ouma Lien sê di's nou tyd vir slaap. 
Sy't vergeet om die geiser aan te sit so ons kan nie bad nie. Sy kook toe die ketel en vat 'n warm waslap met Jeyes Fluid en Tea Tree Oil en vee my gesig af. 

Voor ons in die bed klim toe bind sy 'n groen struk om haar venster diefwering vas. Ouma Lien het vroeër die week vir almal in die straat strukke gevat: 'n groene, 'n rooie en 'n bloue. 
'n Groene beteken als gaan goed. 
'n Bloue beteken jy kort kos en 'n rooie beteken daar's kak bel die polisie. 
Voor ek aan die slaap raak haal ek my Harry Potter and the Philosopher's stone uit, sit hom op my bors, en vra vir haar of sy nie vir my 'n stukkie kan lees soos in die ou dae nie. 
Sy maak toe die Bybel oop en lees vir ons Openbaring 8. Sy't vergeet om haar tand in te sit so ek was ekstra bang. 
Ek't my ma weer 'n whatsapp gestuur maar ek dink haar foon is af. 
Ons het intussen nuus ontvang dat tannie Doreen deur die Visrivier is en tent opgeslaan het in die Namib woestyn, dit gaan goed met haar. 

Môre bou ons weer puzzle. 














Comments

Popular posts from this blog

'n Dekade is verby

Geloofsbeproewing in die Driveway

Die Skou